Restaurants
Spa
Day Visits
Shop
Functions
16°C
December 27th, 2024
So saam met die nuwe jaar is daar altyd ’n oorvloed vars groente en vrugte – in die Babylonstoren-tuin asook op die res van die plaas. Die laventelseisoen is al amper iets van die verlede, maar die besige bytjies is nog hard aan die werk tussen die laaste pers blommetjies. Voordat die skooljaar weer met mening afskop, geniet ons nog die vakansietyd se stadiger pas. In die tuin baljaar kinders by Ou Brulparra, en ouers hou hulle tevrede dop met die lekkerste gelato in die hand.
Die plaas- en tuinspan is egter op hul pos – oestyd is ’n besige tyd. Ons pluk nou Afri-Rose- en Afri-Blush-appels en die kelderspan hou die wingerde fyn dop – sodra die suikervlak reg is, sal hulle inspring.
Ons jaarlikse amandeloes kom hier teen die einde van Januarie aan die beurt, en dis altyd ’n hoogtepunt. Die amandels gaan reguit Lekker Kamer toe en die kenmerkende aroma van vars geroosterde amandels hang dan in die lug. Die Lekker Kamer lok besoekers ook met ander lekkernye, waaronder ’n hele klompie amandelprodukte – soos die dikste, rykste amandelbotter denkbaar en heel amandels omhul in donker sjokolade.
2025 se werkswinkels is reeds aanlyn beskikbaar. Oudergewoonte is daar ’n groot verskeidenheid onderwerpe om uit te kies, onder meer kos, tuinmaak, handwerk en kuns. Gryp die kans aan om in die nuwe jaar iets vir jouself te doen. Wou jy nog altyd jou eie marmelade kook? Of meer oor inheemse plante te wete kom? Dalk soek jy na ’n spesiale geskenkervaring vir iemand na aan jou hart. Ons werkswinkels is dikwels maande vooruit uitverkoop, so maak seker jy bespreek betyds.
Om die nuwe jaar met ’n heilsame benadering te begin, fokus ons op die somer se oorvloed. Kies gesonde kos vir liggaam en siel: vars geparste sap, vrugte van die boom gepluk, kombucha om jou gesondheid ’n hupstoot te gee, laesuiker-Vonkeltee, salige spabehandelings, inspirerende boeke en tuingereedskap. Die grootste rykdom is immers gesondheid en dit is ons voorneme om sagter op die aarde te trap, en algehele welsyn te prioritiseer.
Teken in op Babylonstoren se vars nuusbrief vir die nuutste oor alles wat heilsaam is. Daar is nuwe idees vir ’n gesonder kosblik, smullekker smoothies en sensasionele somerslaaie.
Gebruik ons geliefde Babylonstoren-kalender as rigtingwyser om die nuwe jaar met intensie tegemoet te gaan. Dis ontwerp deur Susan Brand wat haar inspirasie in die wonders van die tuin vind.
Dis so maklik om inspirasie uit die tuin te put. Orals waar mens kyk, sien jy tekstuur, ontwerp en detail. Kaapse glasogies wat in die olyfboord rinkink. Werfhoenders wat voor die Roomyskas staan en kloek. Blare wat elke seisoen ’n ander tekstuur en kleur vertoon … Vir my is dit ’n droom om dit alles op papier vas te vang. – Susan Brand, Babylonstoren se hoofontwerper
Soos altyd is 2025 se kalender ’n meerdoelige produk. Ons het ongebruikte uitskotpapier tussen die ander blaaie weggesteek. Dié blaaie kan gebruik word vir teken, handwerkprojekte en skryfwerk of om ’n bos blomme toe te draai.
Babylonstoren
22 Januarie – Discover the secret life of bees
29 Januarie – Lavender & essential oils
Soetmelksvlei
23 Januarie – Family fun: learn how to make sun prints
24 Januarie – Heirloom tomatoes: bake your galette with traditional butter pastry
30 Januarie – Pickle & preserve with summer’s abundance
31 Januarie – Bake your own: savoury breads for a festive table
Bespreek nou.