Wat gebeur in Mei?

April 24th, 2026

Die herfs bring ’n stadiger pas en sagter kleure na die plaas – die perfekte tyd en plek om Moedersdag te vier. Doen iets waarvan Ma sal hou – ’n wandeling deur die tuin en plaasvars skons by die Glaskas Restaurant of ’n  wynproe en heerlike peuselbord in die Proelokaal. Of dalk sal sy  wil aansit vir ’n bord hartlike huiskos by Soetmelksvlei se Ou Stal Restaurant of ’n elegante ete by Babel. 

Bederf haar behoorlik 

By die plaas se Geskenkkamer is daar ’n oorvloed pamperlangprodukte te kus en te keur: hemelse botaniese rome, badmelk, bruisballe, sepe, lyfskroppe en -soute, produkte wat jou stort in ’n spa verander, asook kerse, kamersproei en vele meer. En as sy te ver is om self plaas toe te kom, kan ons iets spesiaals by haar deur aflewer, pragtig verpak met ’n handgeskrewe kaartjie van ons aanlynspan. 

Koop aanlyn

Rosé in die Engelse platteland  

Dis weer daardie tyd van die jaar – ons ligpienk rosé is reeds op reis na die noorde waar dit vir die sesde agtereenvolgende jaar as die amptelike rosé van die RHS Chelsea Blommeskou bedien sal word. Maar hierdie keer maak dit eers ’n draai in die lowergroen Engelse platteland vir die amptelike bekendstelling by ons susterlandgoed, The Newt in Somerset. 

Die 2026-oesjaar word by die eerste Great Garden Show, wat van 9–17 Mei by The Newt in Somerset plaasvind, bekendgestel. Die okkasie begin met ’n tuintoer en canapés, waarna die eerste glase by middagete in die Cottage Garden geskink sal word. Die afgelope seisoen was relatief droog, wat die druiwe onder matige stres geplaas het. Die kleiner druiwekorrels bring ’n heerlike konsentrasie van geure en maak die 2026-oesjaar ’n besonderse een.  

“Ons ondervind dat seisoenaliteit en ’n wyn se oorsprong deesdae hoog op prys gestel word. Ons tuin is een van slegs twee Suid-Afrikaanse tuine wat met die Royal Horticultural Society geaffilieer is, en ons Mourvèdre Rosé weerspieël ’n natuurlike belyning tussen wyn, tuin en die buitelewe,” sê ons keldermeester, Klaas Stoffberg. “Hierdie wyn pas by luilekker middagetes, tuinpartytjies en ontspanne kuiers, of dit nou in die Kaapse Wynland, op die Engelse platteland of in die hartjie van Londen is.” 

The Great Garden Show by The Newt in Somerset strek oor nege dae en fokus op die landgoed se tuine in hul lieflike lenteglorie. Hierdie feestelike geleentheid word spesiaal vir plantliefhebbers en blomentoesiaste aangebied, met praatjies, werkswinkels en toere – alles om die verhaal van tuinmaak van naderby te ontdek. 

Bespreek nou

Meimaand in die tuin  

Ons is net so versot op die subtiele geur van koejawelblare as op hierdie veelsydige vrug propvol vitamien C. Geniet dit vars, gestowe of ingemaak. En vir dié wat weet hoe is die kook van ’n helder koejaweljellie die lekkerste lekkerte. Ons hartvormige vla-appels is ook aan die ryp raak – liggroen en knobbelrig aan die buitekant, maar geurig en fluweelsag binne-in. Ons vroeë sitruskultivars soos lemmetjies, Nules en pomelo’s is ’n welkome smaakinspuiting en kragtige immuunversterker, nes die vars kruie en groen blaargroente wat ons in wintersoppe en -bredies sal gebruik. Ja, ons praat van jou, krulkool! 

In Mei is daar ’n interessante vetplantuitstalling in die Pofadder-tonnel – moet dit nie misloop nie. Het jy al ooit ’n pynappel sien groei? (En nee, dit sit nie aan ’n boom of bos nie.) Kom kyk by die Glaskas se kweekhuis waar hierdie stadige groeiers op hul tyd hul ding doen. 

Besoek die tuin

’n Wintertafel soos min  

Elke kwartaal kom sit gaste aan by ’n langtafel in ’n geheimehoekie van die plaas wat selde vir besoekers oopgestel word – dalk in ’n boord, onder ons olyfbome of in een van die geskiedkundige kelders. Die spyskaart vir hierdie oesfees word bepaal deur die seisoen en wat in ons tuine, boorde en weivelde beskikbaar is. 

By hierdie geleentheid fokus ons op die aarde, oorvloed en die sintuie – ’n baie intieme en smaakvolle ervaring soos net Babylonstoren dit kan doen. Sit ’n bietjie vonkel in jou winterplanne en bespreek betyds vir die Winteroestafel op 27 Junie 2026.  

Bespreek nou

Moed, vasgevang in klip en staal  

The Story of Emily, ons susterlandgoed in St Ive, Cornwall, is beloon met die gesogte Civic Trust Award vir die uitmuntende argitektoniese werk deur Stonewood Design.  

“A beautifully executed fusion of restoration, landscape and contemporary architecture. It transforms a historic domestic setting into an experiential museum of international significance, telling a vital story with grace and sensitivity.” – Civic Trust beoordelaars 

Met behulp van meesterlike argitektuur en ontwerp word die nalatenskap van hierdie buitengewone feminis, pasifis en kampvegter vir menseregte geëer. Hiervan getuig die bekoorlike Victoriaanse pastorie waar Emily Hobhouse grootgeword  het en die aangrypende Oorlogkamers wat haar  rol in die Anglo-Boereoorlog uitbeeld. Emily Hobhouse se oortuigings is tydloos – dit bly vandag net so kragtig as toe sy dit die eerste keer uitgespreek het. 

Beplan jou besoek

Ver weg van die stadsgedruis  

Kom geniet die Bolandse herfs by ons Plaashotel waar stadiger ritmes en snoesige plesiere op jou wag. Bly tot die einde van Augustus vir vier nagte en betaal vir slegs drie, of bespreek twee nagte en ontvang ’n gratis aandete vir twee by Babel Restaurant. 

Die warmspa met sy binneshuise swembad, sauna, soutkamer en twee verhitte bruispoele is eksklusief vir hotelgaste wat wil terugsit en behoorlik ontspan. Dis die ideale plek om tussen behandelings te vertoef of om die dag te verwyl met ’n goeie boek of interessante  potgooi. 

Bespreek nou

Chef Schalk lifts the lid … 

 Maak seker jy loop nie die vyfde aflewering van BabylonSTORIES mis nie. Hier deel Babylonstoren se eksperts hul kennis en inspirasie. In die nuutste episode gesels ons met uitvoerende sjef Schalk Vlok in die kombuis van die 19de eeuse plaashuis op Soetmelksvlei. Dis die perfekte plek vir hierdie sjef wat die tuin-na-tafelkonsep nastreef – hy kombineer klassieke kookkuns met innovering om die oorvloedige vars produkte uit ons tuine, boorde en weivelde te omskep tot iets fenominaals. Schalk is op sy heel gelukkigste omring deur sy mense, met ’n roosterkoek vars van die kole in die hand.

BabylonSTORIES is op die Babylonstoren App, Spotify, YouTube en Apple Podcasts beskikbaar.

Luister nou

Werkswinkels in May

Gee vir jouself of ’n geliefde die geskenk van tyd en ruimte. Kom leer gerus ’n nuwe vaardigheid aan of verdiep jou kennis van iets waarin jy reeds belangstel.

Die plaas se stadiger pas, omring deur geesgenote en heerlike plaasvars kos, is ’n wonderlike geskenk vir enige ma wat hou van leer en ontdek. Van ystersmeewerk tot seepmaak tot byeboerdery – daar is ’n werkswinkel vir ’n ieder en ’n elk. 

Babylonstoren 

5 May – Baking with honey at the Byzantium 

6 May – Create table decor from our autumn garden 

12 May – Compost 101: the art of cycling nutrients through your garden 

13 May – The art of pressing and preserving olives 

19 May – Natural soapmaking with our olive and essential oils 

20 May – Learn to keep bees on International Bee Day 

26 May – Break bread with our master baker  

27 May – Inside scoop: secrets to water buffalo mozzarella & gelato 

Soetmelksvlei

2 May – Blacksmithing: make your own braai fork 

7 May – Magic with milk: make butter, soft cheese and yoghurt 

8 May – Go nuts! Bake a pecan pie and carrot cake 

9 May – Floral cake decorating with Martjie Malan 

9 May – Leathercraft: craft a traditional wood & riempie stool 

14 May – Master meat: make your own salami 

15 May – Master meringues and macarons 

16 May – Blacksmithing: make your own soup ladle 

21 May – Chocolate & cake: make celebratory treats 

22 May – Cape cookery: melktert, melkkos & koesisters 

23 May – Leathercraft: make your own apron 

29 May – Bake four traditional pies with butter pastry 

30 May – Make a wooden milk stool  

BOOK A WORKSHOP 

Comments are closed.