Restaurants
Spa
Day Visits
Shop
Functions
16°C
August 25th, 2026
“This is what you shall do: love the earth and sun and the animals.”
Walt Whitman
Hierdie jaar is die lente eensklaps hier! Die Pofadder-tonnel, Skaduhuis en rivierbank is reeds in die boslelies se helder kleure getooi en die perske-, pruim- en amandelbome is in ’n wit-en-pienk bloeiselwolk gehul. Op ’n plaas is mens terdeë bewus daarvan dat elke seisoen ’n rol speel in die natuur se voortplantingsiklus. En wanneer die toestande van die norm afwyk, pas ons ons boerderybeginsels daarby aan.
“Die warmer as normale winter en lae reënval het die nuwe seisoen vinniger laat aanbreek, met bome wat vroeër begin bot, besproeiing wat vinniger nodig is en boorde wat reeds bemes word. As kouer, natter weer egter later in die seisoen voorkom, is dit ongunstig vir bestuiwing omdat die bye minder aktief is en daar ’n groter risiko van swamsiektes is,” sê Ian de Villiers, hoof van landbou.
Ons vetplante is natuurlik dolgelukkig en floreer in die droër toestande! In die Welwitschia-tuin en omliggende rotstuine vleg kleurvolle vygies ’n bont lappieskombers tussen die klippe.

Vir ons bye was daar vanjaar min ruskans. Gewoonlik het hulle ekstra wintervoeding nodig, maar dié jaar kon hulle byna onverpoos stuifmeel versamel. Maar dis nie net die insekte wat op die oorvloedige sonskyn reageer nie. Die visse in ons damme is ook bedrywiger, terwyl die Kaapse bergskilpaaie in die nuwe skilpadkampie langs die tuinbadkamers hul doppe heerlik warm bak en die klein rooipensies teen verbasende spoed rondrits.
Ons weet alles proe beter met sonskyn – en tans smul ons aan bloubessies, aarbeie, boerbone, aspersies, artisjokke, avokadopere en sitrus. In die tonnels oes ons ertjies, borrie, broccoli en erfstuktamaties, terwyl die Glaskas Restaurant se kweekhuis met sappige aarbeie spog.

Die lente is een van die mooiste tye om op die plaas te kom kuier. Ons het drie spesiale aanbiedings om die meeste van die seisoen te maak. Om ons Condé Nast Traveller Triple Crown-toekenning te vier, bied ons drie nagte vir die prys van twee tot en met 30 September. Ons bederf ook elke volwasse gas met ’n tweegangmaaltyd by Babel en ’n gratis spabehandeling van 30 minute.
Vir gaste wat ’n korter wegbreek verkies, wag ’n gratis tweegangaandete by Babel as jy twee nagte se verblyf bespreek. Hierdie aanbieding is ook tot die einde van September geldig.
Dan is daar ook ons Garden in Bloom Escape (tot 30 November, na gelang van beskikbaarheid). Hierdie spesiale aanbod sluit daaglikse ontbyt by Babel in asook een tweegangaandete en ’n seisoenale tuintoer saam met ’n privaatgids. En op jou laaste dag kan jy boonop later uitklok en bietjie langer vertoef.

Ná ’n wilde en stormagtige winter is die walvisse terug in die baai – net betyds vir die seisoen van sensasionele sonopkomste! Gaan sit op die strand met ’n koppie koffie in die hand en bewonder die walvisse onder die mooiste, breedste hemel.
BLOU in Keurbooms is uitsluitlik beskikbaar vir gaste wat al voorheen by Babylonstoren se Plaashotel of The Newt in Somerset tuisgegaan het. Bederf die kinders met ’n seevakansie of gee hulle die beste van twee wêrelde met ons Berg na See-promosie: twee nagte by Babylonstoren gevolg deur drie nagte by BLOU. Dit is vyf dae van natuurskoon, plaasdiere en walvisse en dolfyne wat in die branders baljaar.

Erfenisdag op Soetmelksvlei is ’n viering van geliefde plaasdiere en heerlike erfenisdisse, soos net Ma en Ouma dit kon maak. Kom ontmoet die gemmerkatte, kolliehonde, hoenders, miniatuurdonkies, reusagtige Chianina-osse en hardwerkende muile. Beleef die ontwikkeling van plaasvervoer oor die afgelope eeu of wat en ry saam op ’n ossewa, muilkarretjie of trekker. Hier jaag ons nêrens heen nie.

Op 26 September is dit weer tyd vir ons Lente-oestafel – ’n intieme ete waar ons die seisoen se heel beste vier. Teen sononder sit gaste aan by ’n tafel in ’n geheimehoekie van die plaas vir ’n fees van uitsonderlike kos en uithalerwyne. Getooi in die kleure van die lente, kan gaste rustig terugsit en die oomblik inneem – dis Babylonstoren op sy beste.

Hyde Park Corner se jaarlikse boslelie-uitstalling kry hierdie jaar so ’n ietsie ekstra. Van 1 tot 14 September bring ons die kleure, geure en skoonheid van Babylonstoren tot in Johannesburg. In ’n replika van die Pofadder-tonnel sal lekkernye uit Babylonstoren se spens, gunsteling lekkerruikprodukte en elegante huisware ten toon gestel word.
In die nuutste episode van BabylonSTORIES neem keldermeester Klaas Stoffberg ons deur die kelder en gee ’n privaat wynproe. Hier vertel hy die stories agter ons wyne, gesels oor twee spesiale wyne wat eksklusief vir die Wynklub gemaak word, en deel die storie van die verwarring wat tot Babel se naam gelei het. Nuwe episodes word in die middel van elke maand vrygestel. Beskikbaar op die Babylonstoren-toep en -blog, Spotify, YouTube en Apple Podcasts.

By Kleinbosch – geleë op ’n plaas in Dal Josafat net buite die Paarl – is leer nie beperk tot die klaskamer nie. Leerders word aangemoedig om te ontdek, vrae te vra en groot te droom. Kleinbosch kombineer praktiese ervarings, tyd in die natuur, asook blootstelling aan die heel nuutste tegnologie. Dis ’n plek waar nuuskierigheid en selfvertroue saam groei.
Gedurende die September-skoolvakansie gee die Meetkunde Meester program (28 September – 1 Oktober) aan Afrikaanse leerders ekstra ondersteuning met meetkunde in ’n inspirerende omgewing.Maak kontak om uit te vind hoe jou skool kan aansluit by ’n bestaande program of om ’n pasgemaakte een te beplan.

Ons susters oor die water pluk tans die vrugte van hul arbeid – van appels vir sider in Somerset tot sangiovese in Chianti. Besoekers kan uitsien na luilekker middagetes, oesfeeste, heerlike proeë en rustige namiddae in die tuine, boorde en wingerde. Vir meer besonderhede oor oestafels, glase wat klink, werkswinkels, praatjies en wandelinge, gaan loer gerus by The Newt in Somerset en Vignamaggio.
Ons kleinsus in die Duivendrechtse polder buite Amsterdam, Over-Amstel Boerderij, is heelwat kleiner as haar groter sibbe, maar danksy Nederlandse vindingrykheid en ywer is sy baie produktief. Sjef Herb van Drongelen se tema-etes bedien die heel beste van die seisoen. En as jy so ’n bietjie na Babylonstoren verlang, arriveer per boot (of fiets) vir Over-Amstel se huldeblyk aan ousus, Groeten uit Babylonstoren. Hier word die lekkerste vars produkte met ’n goeie skeut Suid-Afrikaanse inspirasie plus Babylonstoren se bekroonde wyne bedien.

September se werkswinkelprogram het iets vir almal. Kom leer meer oor bak met bloubessies, boekbindery of die fassinerende wêreld van fynbos, inheemse bome en bye. Of kom ervaar die heerlike genoegdoening van iets met jou hande maak – jou eie melkstoeltjie uit hout of ’n braaivurk uit yster.
BABYLONSTOREN
1 September – Craft your own homemade soaps
2 September – Discover & grow cycads
3 September – Forage for indigenous veld foods
8 September – Grow your own spring vegetables
9 September – Spring decor from the garden
15 September – Farm brew: bean to cup coffee experience
16 September – Encounter the beautiful world of fynbos
17 September – Taste of spring: asparagus & artichokes
22 September – Naturally sweet: baking with honey
23 September – Craft your own homemade soaps
29 September – The secret life of bees
30 September – The wonders of indigenous trees
SOETMELKSVLEI
3 September – Perfectly pumpkin: seasonal baking
4 September – Make butter, soft cheese & yoghurt
5 September – Blacksmithing: make a pigtail braai fork
10 September – Make butter & buttermilk scones
11 September – Master meat: make salami & charcuterie
12 September – Craft a 3-legged milking stool
12 September – Berry feast: bake a frangipane tart
17 September – Floral cake decoration
18 September – Bake with blueberries
19 September – The art of bookbinding
19 September – Carpentry: craft a herb box
25 September – Traditional handcrafts: colour crocheting
26 September – Leathercraft: make a dog collar & leash